Die Goddelose Troep

I found this absolute gem of an account of Church Parade while trawling the net. And I reproduce it with the permission of its author, J. Francois Barnard. The link with 1SAI was a bonus and I do know that this account does portray that institution called “Kerk Parade” very accurately. I know I underwent a similar sort of thing on my first church parade at 3SAI. My thanks must go to Francois for giving me permission to reproduce this account.

Die Goddelose Troep

Ek het sopas in die Bloemfonteinse Weermag gearriveer, en dit was my eesrste kerkparade. Ek had geen ideë hoe hierdie tipe ding werk nie, en voer toe maar net bevele uit.

Bevele het gekom vanaf die groot, vet oom wat ons “Sammajoor” genoem het. Hy kon nie praat nie, net skree. Alles aanmekaar. Niemand het hom van leestekens geleer nie. Hy het die duisend of so van ons aangetree en begin blaf.

“NG- KERK – TREE – AAN – ROER – JOU – GAT – TROEP – EK – WAG – NIE – OP – ‘N – SONDAG- VIR – JOU – NIE!”

Met ‘n allemintige geskarrel het omtrent die helfte van 1SAI Bataljon aangetree. Peletons van so veertig elk het weggemarsjeer kerk toe. Ek het nog gewag. Is mos nie in die NG – kerk nie.

“HERVORMDE- KERK!” bulder hy voort, “TREE – DAAR – BY – KORPORAAL – DA – SUZA – AAN!” Stilte.
“NIE- DA – SUZA – NIE – DIE – DONNER – IS – ‘N – KATOLIEK – WAAR – IS – ‘N – HERVORMDE- KORPORAAL!”

Nog ‘n groot klomp marsjeer daar weg.

“GEREFORMEERDES – MOENIE – LAAT – EK – VIR – JOU – WAG – NIE – JOU – DANCE – PARTY – IS- VERBY – DIS – TYD – VIR – KERK!”

Die volgende drie het hy altyd bymekaar gehou.

“NUWE- APOSTELS – BY – KORPORAAL – KOSTER – OU – APOSTELS – BY – KORPORAAL – SMIT -EN – AGS – BY – SMIT – SE – MAATJIE – TREE – AAN!”

Wanneer hulle so wegmarsjeer voeg hy by: “HOOP – DIE – DAM – IS – NIE – TE – DIEP – VANDAG- NIE!” “KATOLIEKE- MARIA – WAG – VIR – JOU – MAAR – EK – WAG – NIE – VIR – JOU – NIE – ROER – JOU
– TROEP – ROER – JOU!”

Daarna volg ‘n hele klomp kerke waarvan ek nog nooit gehoor het nie. Ek was ‘n Baptis nadat die NG-kerk ons gevra het om te bedank. Iets met ‘n dopery te doene. Ons kerk het toe later die Baptiste-Unie verlaat en saam met ‘n ander
paar kerke die IFCC begin. Ek was seker Sammajoor sou my nie glo as ek vir hom sê ek behoort aan IFCC nie. Ek besluit toe maar om ‘n Baptis te bly.

Naderhand was daar net drie van ons oor. ‘n Vaal Cortina het langs die paradegrond gestop. Die troep langs my het die bestuurder herken. Sammajoor ken hom klaarblyklik ook.

“NOU – JA – JULLE – MORMONE – DAAR – IS – JULLE – GROOT – HORMOON – NOU!”

Hy wou net omdraai en loop toe hy sien dat ek nie in die Mormoon-motor klim nie.

“JOU – GODDELOSE – TROEP!!!!” Skielik had hy nie woorde nie. Hy kon nie sy oë glo nie. Ek lyk dan so christelik-nasionaal.  “IS- JY – IN – DIE – RONDE – KERK – WAAR – DIE – DUIWEL – JOU – NIE – IN – DIE -HOEK – KAN – VASKEER – NIE!!!”

Hy staar my aan en besef dat net ek en hy oor is op die paradegrond. Skielik is sy bravade oor en word hy weer ‘n mens. “In watter kerk is jy?” vra hy.

“Baptiste Kerk, Sammajoor” lieg ek ter wille van ‘n lang verduideliking.

“Nou waar gaan hulle nou weer heen?” wonder hy hardop.

Toe laai hy my in sy motor en sit die peletons agterna. By elkeen stop hy en vra die korporaal waarheen die  Baptiste moet gaan. Die Katolieke weet toe en antwoord: “Free Churches, Seageant-Major! The Baptists, Methodists and Prebyterians are together as the Free Churches!”

“Vrye Kerke!” haal sy geheue hom weer in. “Vrye Kerke…; nou wat op aarde dóén julle daar?”

Ons kon hulle toe op die ou end nie opspoor nie, en Sammajoor het my toe maar vir ‘n koffie by die Wimpy ge-stick. Eintlik ‘n nice oom, dié Sammajoor!

© J. Francois Barnard – Junie 2002. Moved to blog 07/04/2013

Blogging while allatsea © 1999-2017. All photographs are copyright to DR Walker or the relevant photographer. Frontier Theme